WEG IS DIE EERSTE VOëLTJIE

More almal

 Sjoe, wat kan ek sê.  Marguerite is nou ‘n gekwalifiseerde skoonheidsterapeut!  Dit is amper so onwerklik, maar dit is nou realiteit.  My oudste dogter is nou reg om die wêreld binne te gaan.  Dit is eintlik met ‘n traan in die oog wat ek van haar moes afskeid neem, maar ook is ek so geweldig trots op haar.  Sy het met lof geslaag en het net haar beste gegee hierdie twee jaar.  Op die oomblik is sy in Windhoek waar sy vir ‘n maand in ‘n skoonheidssalon gaan werk saam met Christelle, haar vriendin.  Sy is baie opgewonde en sien uit daarna om te begin werk. 

Maar hoe voel ma en pa?  Ai, dis so moeilik om daardie vraag te antwoord.  Pa bly maar stil, maar ek kan sien hy verlang hom dood na daardie kind.  Ma huil gedurig en wil net bel om haar stem te hoor.  Maar ons het nou begin vrede maak daarmee en dank God dat hy ons die wysheid gegee het om haar so goed groot te maak dat sy nou met wysheid en volwassenheid die wêreld kan ingaan. 

My ma kom nou Maandag permanent in die Paarl in ‘n ouetehuis bly.  Dit is vir my ‘n blye dag, want ek was baie bekommerd oor haar so alleen daar in die groot huis in die Strand.  Dit huis is verkoop en die meubels wat oortollig is, is nou in die proses om verkoop te word.  Ons as kinders kon kry wat ons wou hê.  Daar was so baie goed wat na my toe moes kom dat ek omtrent weer my hele huis moes op sy kop keer om plek te maak vir die nuwe goed.  Die sitkamer moet nou geverf word, want hy is oranje en die bankie is vuil pink.  Dit is beslis nie ‘n goeie kombinasie nie.

Vrydag is ek met verlof. Iets om regtig na uittesien.  Die jaar was lank, en so baie dinge het gebeur dat ek uitsien na ‘n bietjie rus en vrede.

Deur die lang jaar het God ons bygestaan, gedra en met liefde oorlaai.  Dit was so wonderlik om nuwe vriende en vriendinne te maak, almal was goed vir ons en is nog steeds.  Ek waardeer elke e-mail en elke geselsie op SSSB.  Dit is die hoogtepunt in my dag.

Mag almal van julle ‘n wonderlike kersseisoen hê en ‘n uitstekende 2008.

Baie liefde

Louise

Advertisements

Add comment December 12, 2007 Louise

AG EK KAN NET HELLO Sê

More sê aan almal wat hier lees

 ‘n Lekker besige naweek gehad.  Moes Saterdag oggend weer deur ry na my ma toe en begin pak.  My suster en haar man het ook ‘n uur na ons gekom, en toe het sy verwag ons moes al klaar gepak gewees het.  Die vermetelheid.  In hierdie maand wat ek en my man en kinders elke naweek Strand toe gery het, het sy nie 1 maal daar gewees om te help pak nie.  Toe ons nou Saterdag die kombuis gereedskap en bakke moet deel, was sy so ombeskof – het net die beste vir haar gevat en ek moes met die krummels tevrede wees.

Ek het my lam gewerk, sy het net hiet en gebied vir almal.  Dit gaan nog ‘n baie baie lang pak wees na die 16de toe en ek weet nie of ek my sal kan inhou altyd nie.  Sy is baie baie beledigend en ook baie ombeskof met my ma.  My broer het hom heeltemal onttrek van hierdie trekkery af as gevolg van haar ombeskofgeid.  So ons sal maar moet wag en kyk hoe dinge vorder!!

Verder het ons Sondag maar tuis deur gebring en lekker geswem en gebraai en ek het verder uitgepak.  En kaste oorgepak om alles in te kry.

Vandag is weer rustig, reën lekker en die kinders is by die huis met vakansie.

Vir plus minus so ‘n jaar en ‘n half  het ek en Pierre elke Sondag vir ‘n bergie wat altyd daar in ‘n parkie alleen sit ‘n bord kos geneem – deur die tye wat ons swaar gekry het, en in die goeie tye, al was dit net party dae ‘n sny brood met eier.  Die afgelope 4 Sondae kon ons nie, aangesien ons by my ma was om te help pak.  Gister was weer die eerste keer dat ons sy kos kon gaan gee, en die vreugde op daardie man se gesig, was onbeskryflik.  Hy het gewonder of ons hom vergeet het, het hy aan ons gesê.  Dit het my net weer eens laat besef, ons moet ons oë oopmaak vir mense rondom ons.  Die bord kos gee ek met soveel liefde in my hart en net om die vreugde en dankbaarheid op daardie man se gesig te sien.  Daardie man is al reeds ver in sy jare, en in die winter het ek ‘n kombers vir hom geneem en was ek so bang dat hy nie winter sal deur maak nie, maar die Here het hom warm gehou, net soos ek gevra het.  Ek het my voorgeneem om as ek die naweek nie vir hom kan kos neem nie, ek my bure sal vra om asb net vir hom kos te gee, al moet ek ook self die bestandele koop.  Vir hom beteken daardie bord kos Sondae so baie en is dit dalk al wat hy eet gedurende die week.  Ek het ook net besef, dat so maklik gooi ons sommer die oorskiet vir die honde, maar kyk wat se geluk bring dit aan daardie man.

Lekker dag

Louise

1 comment November 26, 2007 Louise

Besige tyd

More almal

Sjoe, wat ‘n besige tyd het ek nou nie die afgelope tyd gehad nie en sal seker nog hê tot by Kersfees.  My ma trek mos van die Strand af Paarl toe, en ons trek en trek en trek.  Ons pak in en dit lyk of daar nog niks weg is nie.

Die huis is verkoop en die oordrag is besig om te gebeur.  My ma het vir elke kind R10 000 uitgesit om te ontvang wanneer die oordrag klaar is.  Ek is baie opgewonde, want ek gaan vir my ‘n laptop koop met die helfte van die geld en die ander helfte moet gaatjies toe maak en weggesit word.  Ek is so opgewonde oor die laptop soos ‘n klein kindjie oor ‘n krismkis present.

Verder gaan dit goed.  Manlief geniet die werk verskriklik baie en vertel elke dag van alles wat die kindertjies doen.  Hy is baie moeg saans, maar dit is die moeite werd.  Ons is so dankbaar oor daardie werk en glo dit sal nou permanent wees.

Met die kinders gaan dit voor die wind.  Eksamens is nou verby en nou begin hulle op my senuwees werk, maar sal hulle maar besig hou met allerhande dinge.

O Ja , die sitkamer en eetkamerstel wat ek van my ma gekry het, het ook aangekom en dit lyk pragtig.  Vir die eerste keer in 24 jaar van getroude lewe het ek ‘n eetkamerstel met stoele en ‘n goeie sitkamerstel.  Nou word ek ook “grand”  ha ha

Gaan nou eers weer en sal more of so meer vertel

Liefde

Louise

Add comment November 20, 2007 Louise

  • Pages

  •