WEG IS DIE EERSTE VOëLTJIE
December 12, 2007 Louise
More almal
Sjoe, wat kan ek sê. Marguerite is nou ‘n gekwalifiseerde skoonheidsterapeut! Dit is amper so onwerklik, maar dit is nou realiteit. My oudste dogter is nou reg om die wêreld binne te gaan. Dit is eintlik met ‘n traan in die oog wat ek van haar moes afskeid neem, maar ook is ek so geweldig trots op haar. Sy het met lof geslaag en het net haar beste gegee hierdie twee jaar. Op die oomblik is sy in Windhoek waar sy vir ‘n maand in ‘n skoonheidssalon gaan werk saam met Christelle, haar vriendin. Sy is baie opgewonde en sien uit daarna om te begin werk.
Maar hoe voel ma en pa? Ai, dis so moeilik om daardie vraag te antwoord. Pa bly maar stil, maar ek kan sien hy verlang hom dood na daardie kind. Ma huil gedurig en wil net bel om haar stem te hoor. Maar ons het nou begin vrede maak daarmee en dank God dat hy ons die wysheid gegee het om haar so goed groot te maak dat sy nou met wysheid en volwassenheid die wêreld kan ingaan.
My ma kom nou Maandag permanent in die Paarl in ‘n ouetehuis bly. Dit is vir my ‘n blye dag, want ek was baie bekommerd oor haar so alleen daar in die groot huis in die Strand. Dit huis is verkoop en die meubels wat oortollig is, is nou in die proses om verkoop te word. Ons as kinders kon kry wat ons wou hê. Daar was so baie goed wat na my toe moes kom dat ek omtrent weer my hele huis moes op sy kop keer om plek te maak vir die nuwe goed. Die sitkamer moet nou geverf word, want hy is oranje en die bankie is vuil pink. Dit is beslis nie ‘n goeie kombinasie nie.
Vrydag is ek met verlof. Iets om regtig na uittesien. Die jaar was lank, en so baie dinge het gebeur dat ek uitsien na ‘n bietjie rus en vrede.
Deur die lang jaar het God ons bygestaan, gedra en met liefde oorlaai. Dit was so wonderlik om nuwe vriende en vriendinne te maak, almal was goed vir ons en is nog steeds. Ek waardeer elke e-mail en elke geselsie op SSSB. Dit is die hoogtepunt in my dag.
Mag almal van julle ‘n wonderlike kersseisoen hê en ‘n uitstekende 2008.
Baie liefde
Louise
Entry Filed under: Uncategorized
Leave a Comment
Some HTML allowed:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <pre> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>